In ‘n goed gekoördineerde nagoperasie het veiligheidsmagte, bestaande uit Orania Veiligheidsdienste, AfriForum en die SAPD, vier verdagtes buite Orania gearresteer. Die verdagtes, wat betrokke was by koperkabeldiefstal op ‘n plaas sowat 40 kilometer van Orania af, het nie verwag dat hulle beweging deur gevorderde nommerplaatherkenningstegnologie en ‘n deeglike sekuriteitsnetwerk gemonitor is nie.
Die gebeure het op Dinsdagoggend 5 November ontvou, toe die vier mans onverwags deur veiligheidsmagte vasgetrek is. Maandagaand is die verdagtes na die plaas vervoer met die doel om koperkabels te steel – ‘n misdaad wat ‘n groeiende probleem in die streek is en reeds aansienlike ekonomiese skade aan plaasgemeenskappe aangerig het. Met die nommerplaatherkenningstegnologie van die Stroomop Boerevereniging wat die voertuig geïdentifiseer het, is Orania se beheerkamer en veiligheidsstrukture in paraatheid geplaas.
In aanloop tot die operasie was verskeie strategiese maatreëls ingestel om die verdagtes vas te trek. Sekuriteitskameras en ‘n spesiale nagkamera is in die veld ontplooi, en lede van Orania se Taakspan, Reaksiespan en Reserwegroep het saam met AfriForum en die SAPD stelselmatig posisies beman. Hierdie gesamentlike operasie, wat omstreeks 05:00 voltooi is, het tot gevolg gehad dat die verdagte voertuig en die verdagtes vasgetrek is met sakke vol koperkabels en toerusting vir die diefstal agterop die bakkie.
“Hierdie kabeldiewe teister en ontwrig die gemeenskap van Orania en omliggende dorpe nou al vir ’n geruime tyd,” sê Daniël Coetsee, AfriForum se Orania-protospanleier. “Samewerking tussen die onderskeie veiligheidsgroeperinge is die sleutel tot die doeltreffende beveiliging van die Bo-Karoo.”
Joost Strydom, die leier en woordvoerder van die Oraniabeweging, het 'n meer lakoniese kommentaar gehad: "veilige streek, veilige Orania."
Die gearresteerdes het ongeveer 138 kg koperkabels in hul besit gehad. Die groep word verder verbind met verskeie ander koperdiefstalle in die omgewing – 24 sake is by Hopetown en nog drie by Vanderkloof aangemeld. Hierdie misdadigers het die streek geteister en beduidende finansiële skade aangerig, nie net in die vervanging van gesteelde koper nie, maar ook deur die ontwrigting van noodsaaklike waterpompstelsels, wat produksieverliese vir boere beteken.
Die Orania Veiligheidsdienste monitor tans ‘n gebied van 50 kilometer rondom die dorp. Hulle beklemtoon die belangrikheid van samewerking met AfriForum en ander rolspelers om die veiligheid van Orania en omliggende gebiede te verseker. Na hul arrestasie is die verdagtes aan die SAPD oorhandig om verdere regsprosesse te volg.
After the betrayal of the NEDLAC agreement by the ruling coalition, the movement has taken steps to challenge the reforms at court.